Die tekste van die Menaion, oftewel die veranderlike vir elke dag van elke maand van die jaar, is nou hersien en gestandaardiseer, en sover moontlik gekorrigeer (al die baie spelfoute!). Daar is wel dele wat nog nie vertaal is nie, bv. die Kanons van die meeste Mettedienste, hoewel sommige Kanons volledig of gedeeeltelik vertaal is. Die opeenvolgende dae is gewoonlik in groepe van 10 dae byeengebring en saamgevoeg, maar soms in groepe van 5 dae. Soms word volledige dienste se tekste gegee, veral vir die Groot Feeste van ‘n bepaalde maand, maar meestal net die veranderlike dele.

Die Griekse melodie-aanwysings word in hakies býgevoeg, ingeval die leser / sanger wil probeer om die teks op die bepaalde wysie te sing, iets wat soms moontlik mag wees, en soms nie. Die vertalings is eintlik bedoel om op die eenvoudige Russiese wysies gesing te word, wat nie so van sillabe-getalle en klemtone afhanklik is nie.